Sjemá Jisra'él (of Sjma Jisra'él; שְׁמַע יִשְׂרָאֵל; "Hoor, Israel"), die Joodse geloofsbelydenis, is die eerste twee woorde (die aanhef) van 'n vers van die Tora, en is die naam van 'n gebed (wat soms bloot as sjema of sjma afgekort word) wat onmiddellik voor die Amidá (עמידה) in die Joodse oggend- en aandgebedsdienste geresiteer word. Die eerste vers bevat die monoteïstiese kern van die Jodedom: "Hoor, Israel: יהוה [is] ons God; יהוה [is] een" (שְׁמַע יִשְׂרָאֵל יְהוָה אֱלֹהֵינוּ יְהוָה אֶחָֽד׃), wat aangetref word in Dwarim/Deuteronomium 6,4,[1] waarby die naam van God (יהוה) nie uitgespreek word nie, maar as Adonái (letterlik: "my Here") weergegee word. Die Afrikaanse Bybelvertalings gee die vers weer as "Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here" (1933/1953[2][3]) en "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here" (1983).[4]
Die term "sjema" verwys by implikasie ook na al drie gedeeltes van die daaglikse gebed wat begin met Sjema Jisra'él. Hierdie gedeeltes van die Tora omvat Dwarim/Deuteronomium 6:4–9, Dwarim/Deuteronomium 11:13-21 en Bemidbar/Numeri 15:37–41. Dit word gelees in die parasjot (of weeklikse Tora-skriflesings) wat onderskeidelik as We'etganan ("ek het gesmeek"), Ékew ("ten gevolge van"), en Sjelág ("stuur!") bekend staan. Die Sjema Jisra'él word tydens elke dag se aandgebed (Ma'ariew, מעריב) en oggendgebed (Sjagariet, שחרית) geresiteer.
Geloofsvaste Jode beskou die sjema as 'n belangrike deel van hul gebedsdiens, en die tweedaaglikse resitasie daarvan word as 'n mitswa (מִצְוָה), oftewel 'n godsdienstige gebod geag. 'n Joodse gebruik bestaan om die sjema as jou laaste woorde te uiter, en Joodse ouers leer hulle kinders om dit te resiteer voordat hulle gaan slaap. In die aangehaalde gedeeltes van die Tora word verskeie gebooie aangespreek wat belangrik is vir die praktyk van die Joodse geloof:
Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.